Beginners rit na Gansbaai (Deel 2 Finale)
Beginners rit na Gansbaai 2 (die finale –meer praat minder fotos)
Hoekom is ons hier? Ek weet nie, wat ek wel weet is dat die meeste (almal?) klublede iets in gemeen deel en geniet.
Hier is ‘n stukkie van my storie.
Ek het jare gelede (toe seks nog veilig was en motorsport gevaarlik) my eerste motorfiets gekoop, ‘n 359 Honda twin. (eerstejaar student op UPE). My eerste val was so ongeveer 90 minute later. Dit was die dae toe die wit strepe op die pad nog met DUCO geverf was en m!@#$r glad was as dit reën. Ek het Buffalo, Paradise en ander ‘byeenkomste’ bygewoon.
Die fietse daardie tyd was maar brutaal. Tydens ‘n Trippie van PE tot Bloem moes daar seker gemaak word dat alle boute en moere nog vas is. Die fiets het hom letterlik self uitmekaar gehaal en weggegooi. Verbasend genoeg was die rooi lyn daardie jare reeds op 11 000 rpm. Dit was ook vermag sonder balanseer aste ens. Sommige fietse het so vibreer dat mens toemond moes ry anders kom die vulsels los. Sommige ma’s het hul dogters verbied om saam op hierdie vibreerders te ry.
Tydens die bou van die N1 reg langs Karel Bremer het ek die pad teen so 120km/u (in ‘n 80 padwerk sone) as gevolg van ‘n potgat (pothole) byster geraak. Net hier besluit ek dat ek ook graag eendag sal wil trou en kinders hê. Pak die fiets weg (verkoop/weggee kanniemeer onthou).
Die hunkering om weer die vrye pad op twee wiele aan te pak moes altyd maar onderdruk word. Die artikel “So you want a bike, huh?” bmwmotorcycleclubcape.co.za/so-you-want-bike-huh was moontlik die laaste wat my finaal laat besluit het om ‘weer te probeer’. Ek het darem nou klaar ‘n vrou en kinners. (Dankie Charles) Ek en Mike het al hier op die klub webtuiste rondgehang lank voor hy sy Dakar gekoop het.
Beide finansies (ek probeer vir
myself werk) en die feit dat ek nooit vir my motorfiets rybewys gegaan het nie
het die koopdatum bepaal. Ek het wel
twee leerlinge gehad (amper nooit onwettig gery). My jongste dogter het so pas 16 geword en ons
besluit toe dat ons saam leerling gaan skryf.
‘n Week of wat na ek die A4 papier in my beursie kon stop was my eie Dakar (2006) hier.
En toe begin die sports.
Mike sê hy is meer bekommerd oor
my as wat ek oor hom moet wees. (ek kan
partykeer maar op my eie stasie wees) As
gevolg van werk kon ons nog nie vir opleiding gaan, ek moes maar weer van voor
af leer ry op ‘n baie groter fiets as die ou 350.
Die twee Dakars.
Mike het ‘n 2001 model en ek die ‘facelift’. (beide
sonder die ‘techno’ items) Soms voel dit
vir my asof die facelift soos vir ‘n ou vrou was. Hel sy lyk mooi maar is nie
so lekker in gebruik nie.
Ons het al die volgende
agtergekom.
In baie opsigte ry die oue
lekkerder (57 000km), is stiller, ruil lekkerder ratte, minder wind ens.
Die facelift (23 000km) is soos ‘n straatvrou, raserig, winderig, en laat
jou gou ongemaklik voel. As ek nou so
daaraan dink is dit ook die eienskappe van ‘n baba. Miskien meer soos ‘n baba want daar is geen
verantwoordelikheid of plig teenoor ‘n straatvrou, net kortstondige g….. Die twee groot verskille is die saals en
windskerm. Mike se fiets sit lekkerder
en ‘n mens word nie so gou moeg nie. Die
windskerm op die facelift is ‘amper’ nutteloos.
Teen 120km/u moet ‘n mens redelik begin klou aan die stuur takke. Ons is reeds besig om ‘n skerm te ontwikkel
wat dieselfde beskerming as die ou fiets sal bied. Ek moet ook nog leer om meer te ontspan, dit
sal nog kom.
Die ryery.
Gemeet aan my historiese ervaring
met fietse is dit nogal senutergend gewees die eerste paar weke. Dan trap ek die rat te sag, dan te hard en
kry dit dan reg om sommer ‘n nutraal tussen 3e en 4e te maak. ‘n Paar keer heeltemal in die verkeerde rat
probeer wegtrek en ander dom foute. Die
meeste was ook as gevolg van teveel konsentrasie. (en banghied) Met tyd het dit begin regkom en ek begin al
meer ontspanne raak. Aan die begin was
my kneukels wit soos ek die stuur takke beklem omdat ek bang is ek val agter af
as die straatvrou wegvlie.
Daar is ‘n dogter wat ook motorfiets
wil ry.
Aan die ander kant moet ek nog
vir Michelle (dogter) ook leer ry. Daar
is ook mos nie te veel wat ‘n pa wat amper haar oupa kon wees haar kan leer nie. Sy het darem al twee trips gedoen. Hier van
Durbanville na Somerset Wes en ook Taalmonument toe.
Sus met haar ‘wannabe’ padfiets. Sy is so kort ons het maar opgegee om ‘n
‘scrambler’ te kry.
Die lesse wat mens leer.
Op pad terug van Somerset
af het ek en sy kort kort gestop sodat on konferensie kan
hou en oor die foute wat sy maak kan
praat. Uit pure luiheid het ek later my
been nie meer hoog genoeg opgetel as ek opklim en na die derde stop het ek ‘n
helse miershoop op my maermerrie gehad.
Niemand het my jammer gekry, dit was die grap van die week.
Eina dit was seer - Moenie lag nie!!
Opleiding.
Na ek en Mike die draad oor die optel van ‘n fiets
gelees het was die skrif aan die muur.
Pa is te oud, iemand sal moet help.
Ons besluit toe daar moet opleiding gedoen word. Die fiets word saggies neergelê op die gras
en toe moes die straatvrou opgetel word.
Kyk waar jy vat! Hey sy gaan seerkry!
Gelukkig is sy getrou aan haar professie en word ‘n paar keer neergelê
en weer opgetel. Ons kon na ‘n paar keer
agterkom sy gaan die stryd wen.
Straatvrouens ken van lê en optel. Ek is oud en Mike is jonk, sy wen die
rondte.
Tel haar op, sy lê in die sloot
Nou moet ons ry ook.
Marinda (die vrou van my kinders
waarvan ek weet) besluit ons moet Gansbaai toe om vir haar Pa ‘n vadersdag
verrassingsbesoek te bring. Sondagoggend
toe die winter missie nog oor die kaapse vlakte lê is ons op pad. Om meer
ondervinding te kry sal ons oor Gordonsbaai en Kleinmond Gansbaai toe ry. Weg van die gejaag en naby die draaie.
Na ‘n koffie by die Enjen voor Somerset was ons reg vir die pad. Daar was heelwat padfietse wat iewers heen
gejaae het. Ek kan nognie verstaan hoekom daar so vinnig
gery moet word. Die genot is dan net
soveel gouer verby. Ek dink nou net aan die ou gesegde dat ‘n Beetle net soos
‘n straatvrou is, as sy nie loop en raas nie lê sy in ‘n sloot op haar rug.
(Jammer dames)
Skoonpa en dogter, Klipkop met rugsak en pasgebore Skilpad
Skoonpa kan
goed met diere werk (daarom kan
hy met my uithou) en het die skilpaadjie in die veld agter sy huis gekry pas na
dit uit die eier gekom het. (skilpaaie moet van voëls famillie wees aangesien
hulle ook uit eiers broei.) Hy word nou grootgemaak en dan weer vrygelaat. Vanaf Gansbaai is ons oor Caledon, villiersdorp, Franshoek en
Helshoogte terug huis toe.
Theewaterkloof dam, altyd mooi.
Theewaterkloof Dam
Suikertjies in Franshoek saam met
koffie en Gemmer Kaaskoek.
Suiker vir die Kalmte
Die opdraende kant van die pas is
agter die rug met ‘n paar foute. Een
draai het ons ingegaan teen ‘n hoër spoed as wat vir my gemaklik was. Dit was nogsteeds veilig maar ek het darem ‘n
roekelose geskiedenis. ‘n Ander draai
was ek in verkeerde rat en het probeer om in die draai te ruil. Weereens was dit nie nodig, die fiets het
genoeg krag gehad om deur te gaan waar ek met minder spanning ‘n ander rat kon
kies. Die rit was suksesvol en ek het
weer selfvertroue gekry. Sal nog ‘n ruk
saam met die spoke van die verlede moet saamleef. Miskien oorleef ek hulle nog J
Die rit af tot in Franchhoek was
ek baie meer ontspanne en sonder wit kneukels.
Die duiwel sê aanbid my en ek gee dit vir jou, ek sê aikona daai prys is te hoog.
Terug by die huis na ‘n
fantastiese dag uit. O ja vadersdag is
eers volgende naweek. Lekker verskoning
om weer uit te kom.
Dis nou agter die rug
Wat het ek hieruit geleer.
Arm mense kan ook die lewe geniet. Bly binne jou vermoëns en dit kan dalk net langer
aanhou. Verder moet ek nog ontspan en my
elmboë laat sak. Ek ry oop armpitte soos
‘n veldryer en dit maak mens moeg. Op ‘n
punt het ek en Marinda besef iets is skeef, haar een been raak moeg en my een
arm en een lies bly kramp. Omdat sy ook
kort is en my half omtrek om op te klim sit sy skeef en ek moet dus anderkant
toe om te balanseer. Natat ons die foutjie reggestel het was die pyne weg. Nou is dit nog net die windskerm wat aandag
moet kry.
Adie
Jislaaik jy het darem 'n mooi manier van skryf. Adie, jy moet so gou as moontlik opleiding van 'n profesionele kry - ek wil nie he jy moet iets agterkom as gevolg van my bikery artikle nie. Liewer dat die verantwoordelikheid op iemand anders se skouers sit
- jy sal buitendien van die opleiding baat vind.
Lekkerlees storie en lekker fotos! Dankie, doen weer so!
Pragtig Adie, dankie, jy beskryf dit so mooi. Julle moet net veilig ry.
Nice report Adie, thanks.
Baie lekker Adie, dankie.
Lekker om stories in afrikaans te hoor!!
Dit gee my moed dat ek (as beginner op die pad) wel spoedig 'n gesoute ryer sal wees - aanhouer wen.
Dankie Karin, as jy die ander 'artikels' van my lees sal jy sien ek ook maar nuut in die game. Geniet dit elke keer. Vir my en Mike is dit ook dat ons fiets ry omdat ons WIL. Was vanoggend gou Atlantic toe vir Charly Boorman met die fietse om ons boeke te teken.
Ek is ook gelukkig nie te skaam as ek my naam donkiegat (ass-hole) maak nie.
Oop oog ry.
A
Liability
Motorsport is inherently dangerous. As per paragraph 9 of the club constitution, the club shall not be held liable for any loss, injury or death of any member or guest, howsoever arising.
The BMW Motorcycle Club Cape cannot be held responsible or liable in any way for any actions or decisions you make as a result of the information posted on this site. Although this site is enabled and used by the BMW Motorcycle Club Cape, posts are made by members, non-members, advertisers and guests and none of it is vetted by the club before posting. This is the internet and Africa - you are responsible for yourself.
